Man sit 19j. ná moord op boer
2010-04-29 07:27
Frans Coetzee, Volksblad
Kimberley – Die Zimbabwiese burger wat ’n vermoënde kleinhoewe-boer van die omgewing met ’n graaf teen die kop gekap, na ’n werkershuis gesleep en ’n swaar klip op sy kop gegooi het, is Woensdag in die hooggeregshof vir 19 jaar tronk toe gestuur.
Waarnemende regter M.V. Phatshoane het Gift David Mukondo (19) verlede week aan moord met direkte opset op Elias Khari Sehularo (81) skuldig bevind.
Sehularo, wewenaar van die G. Sekai-kleinhoewe naby Roodepan, het op 15 Mei verlede jaar aan veelvuldige skedelbreuke en breinbeserings op sy kleinhoewe beswyk.
Sehularo het nog geleef toe die klip van 32 kg sy skedel verbrysel het waar hy in ’n kamertjie gelê het.
Mukondo het onder meer erken hy het in November 2008 onwettig die land ingekom om werk te soek. Hy het sowat ’n week en ’n paar dae vir Sehularo as tuinhulp gewerk voordat die moord gepleeg is.
Kort ná die moord het Mukondo ’n selfoon met ’n simkaart, ’n trapfiets, ’n radio-DVD-speler en R1 000 in die plaashuis gesteel en gevlug.
Vier Roodepanse speurders, kapt. Nippie Hendricks, kapt. Dolf Louwrens, ao. Anthony Shuping en insp. Piet Hugo, het Mukondo 18 dae ná die moord in ’n uitgebreide soektog in Limpopo aangekeer.
Die regter het by vonnisoplegging gesê in die grusame moord is ’n oupa en Godsman op gruwelike wyse gedood.
As welgestelde boer was Sehularo ’n rolmodel vir die gemeenskap. Hy het sy kinders universiteitsopleiding gegee en was by sy kerk betrokke.
Mukondo moet swaar gestraf word, want die gewelddadigheid van sy misdryf is skokkend.
Regter Phatsoane het gesê die moord en verhoor het groot openbare belangstelling tot gevolg gehad.
Dwingende en wesenlike omstandighede is aanwesig sodat die wetlik verpligte lewenslange gevangenisstraf nie opgelê word nie.
Mukondo was 18 jaar oud toe hy die moord gepleeg het. Hy is ’n eerste oortreder. Die kans is goed dat Mukondo gerehabiliteer kan word.
Hy het skuld erken en toon berou. Hy is byna ’n jaar as verhoorafwagtende aangehou.
Die regter het Mukondo tot drie jaar gevangenisstraf weens die diefstal gevonnis.
Oupa Sehularo, seun van die oorledene, het ná die vonnisoplegging gesê hy is tevrede met die straf wat Mukondo opgelê is, hoewel dit nie sy pa sal terugbring nie.
Adv. Theunis Barnard van die kantoor van openbare vervolging in die Noord-Kaap het aangekla.
Adv. Lentswe Setouto van regshulp het namens Mukondo opgetree.