Man, seun (4) sterf in Springs-ongeluk
2012-01-16 11:31
Johannesburg – ‘n Man en ‘n vierjarige seun het gesterf en vyf ander is beseer toe drie voertuie op die N17 naby Springs opeengehoop het, het Netcare 911 gesê.
Jeffrey Wicks, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, sê die ongeluk het Sondagmiddag gebeur toe ‘n voertuig uit sy baan gery het en in aankomende verkeer beland het.
Twee voertuie het gebots en ‘n derde een is in die ongeluk beskadig.
‘n Motor het die pad verlaat en twee bakkies het naby die ongeluk tot stilstand gegly, het Wicks gesê.
Paramedici sê die motorbestuurder en ‘n jong seun is op slag dood. Hul lyke was in die wrak vasgekeer.
Wicks sê ‘n omstander het ‘n kritiek beseerde baba uit die wrak bevry. Medici het die baba onmiddellik bygestaan.
Die baba en vier ander beseerdes is op die toneel gestabiliseer en per ambulans na die Netcare N17-hospitaal geneem, het Wicks gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA