Man se oor afgesny tydens rooftog
2011-02-16 10:01
Pretoria – Vier misdadigers het 'n 66-jarige man se oor tydens 'n rooftog by sy lodge in Cullinan, Pretoria, afgesny, het die polisie Woensdag gesê.
Sy skoonseun is gewond toe hy die rowers in sy motor agternagesit het, het Johannes Jafta, polisiewoordvoerder, gesê.
Die 66-jarige man en sy twee werknemers het Saterdagaand by die lodge gesit toe die honde begin blaf het.
Hy het ondersoek gaan instel en toe hy buite kom het gewapende mans hom in die lodge geneem, vasgebind en aangerand.
Sy 56-jarige vrou het 'n rukkie later by die lodge aangekom en is ook vasgebind en aangerand.
Die vier rowers het toe die kluis se sleutels geëis en toe die man weier het een van die rowers sy oor afgesny.
Hulle het toe die huis geplunder en toestelle en selfone gesteel voor hulle gevlug het.
Die eienaar van die lodge het toe sy skoonseun gebel, wat toe die rowers in 'n wit Volkswagen Jetta gesien en hulle agternagesit het.
Die skoonseun het teen die Jetta gebots, waarna een van dié motor se deure afgeval het.
Die rowers het skote op die man gevuur en hom in die laebuik gewond. Die mans is steeds op vrye voet.
Die eienaar, sy vrou en werknemers is by die hospitaal behandel voor hulle ontslaan is.
Die skoonseun is steeds in die hospitaal.
Persone met inligting oor die rooftog kan kapt. Tselana op 082 822 7014 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA