Man se lyk gevind ná ambulans hom los
2010-07-17 12:02
Nelspruit. – Die departement van gesondheid in Mpumalanga het ’n ondersoek gelas nadat ’n man se lyk gister op ’n sypaadjie in dié stad gevind is.
Hul ambulansbeamptes is eergister ontbied om hom te behandel.
Volgens ’n sakeman in die omgewing van Andersonstraat wat anoniem wil bly, het die 55-jarige boemelaar die afgelope paar dae sieklik gelyk.
Die sakeman het die provinsiale ambulansdiens eergisteroggend gebel en gevra om na die man te kom kyk.
“Die ambulans het kort daarna opgedaag en die personeellede het op die sypaadjie met die boemelaar gepraat en geskerts.
Hulle het kort daarna vertrek sonder hom op te laai.”
Sy lyk is gisteroggend gekry.
Ao. Dawie Pretorius, polisiewoordvoerder, het gesê die man is waarskynlik aan blootstelling dood.
Mpho Gabashane, woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê dit lyk in dié stadium of die man man behandeling geweier het.
“Die ambulansmanne het egter versuim om dit te rapporteer.”
- Beeld