Man se hande afgekap in papierfabriek
2010-08-13 07:23
Die Burger
Kaapstad - ’n Werknemer van ’n papierfabriek in Parow se nywerheidsgebied het gister albei sy hande verloor in ’n ongeluk met ’n hidrouliese guillotine.
Teen Donderdagaand laat was ’n groep dokters, onder wie ’n vaskulêre chirurg, nog besig om die man se hande te heg.
“Die man, in sy dertigs, het met papier gewerk toe die ongeluk plaasgevind het,” het Lauren Copley, woordvoerder van Netcare 911, gesê.
“Dit is egter nie duidelik wat gebeur het nie.”
Volgens nooddienswerkers het die guillotine ’n netjiese snit gemaak, wat sy kanse op ’n suksesvolle operasie vergroot.
Die ongeluk het omstreeks 12:00 in ’n fabriek in Beaconvale in Parow se nywerheidsgebied plaasgevind.
Albei die man se hande is in plastieksakke met ys saam met hom na die Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands gebring.
Sy naam kon nie bekend gemaak word nie omdat hy nie kon toestemming gee nie, het me. Susan Scholtz, ’n woordvoerder van die hospitaal, gesê, berig Aldi Schoeman.
Robba Frank, ’n kenner oor die veiligheid van nywerheidsmasjinerie, het gesê ’n hidrouliese guillotine is ’n aaklige masjien.
Die grootste probleem in fabrieke waar met papier gewerk word, is dat die masjinerie maklik vassteek.
Werknemers probeer om die werkgewer tevrede stel en dink hulle kan die masjien vinnig regmaak deur hul hande of vingers te gebruik.
“By enige van die fabrieke is dit beleid dat werknemers se hande te alle tye uit bewegende masjinerie moet bly.”
’n Hidrouliese guillotine het gewoonlik elektriese oë wat die masjien stop indien ’n ledemaat voor die lem kom.
Dit het ook ’n noodskakelaar waarmee dit meganies afgeskakel kan word. Meestal het die masjiene ook ’n knop op die masjien en op die vloer wat dit aanskakel.
‘Kan maande duur om te herstel’
Indien ’n operasie soos dié suksesvol is, kan dit maande duur voor die pasiënt herstel, het prof. Danie du Toit, ’n vaskulêre chirurg verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, gister by navraag gesê. Dit kan gebeur dat die persoon gevoel in en die funksie van sy hande verloor.
’n Span spesialiste sal gedurende die operasie die senuwees, tendons, die been, slagare en are heg. “Dit moet met ’n mikroskoop gedoen word, want alles is baie klein.”
Die resultate hang onder meer van die volgende af:
* Hoe netjies die snit was. Met ’n netjiese snit is die weefsel minder gekneus as wat dit sou wees as die ledemaat afgeruk is.
* Hoe die hand hanteer is. Dit is beter as die hand onmiddellik op ys gesit en skoon gehou word.
* Bloedvoorsiening na die ledemate. Goeie bloedvoorsiening word bepaal deur hoe goed die laste is en of die bloedvloei in die klein bloedvate weer herstel kan word.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger