Man sal lank sit vir moord op bejaarde
2010-11-30 08:09
Somerset-Wes - Met die aanhoor dat hy tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis is vir moord en poging tot moord, het ’n onwettige Zimbabwiese immigrant sy kop laat sak en twee hofordonnanse moes hom aan sy arms na die selle pluk.
Streeklanddros Marilyn Cannon het Douglas Kamudzi (28) gister in die streekhof in Somerset-Wes skuldig bevind op die twee aanklagte teen hom ná ’n aanval op ’n bejaarde egpaar van dié dorp.
Hy het sowat 18 maande as die Stanton-egpaar se tuinier gewerk. Op 10 Oktober verlede jaar het hy die 82-jarige Roy Stanton, wat 62kg geweeg het, verwurg, ’n lap in sy mond geprop en dit met ’n lyfband vasgebind.
Daarna het hy probeer om dieselfde met Stanton se vrou, Elsie (80), te doen.
Cannon het sy dade as afskuwelik beskryf.
“Jy was in ’n vertrouensposisie by dié mense – ’n bejaarde egpaar weerloos in hul ouderdom en omstandighede.”
Cannon het gesê baie egpare tree in Somerset-Wes af “om hul oudag in veiligheid en rustigheid deur te bring”.
“Dit is die tweede keer dat dié hof te doen kry met ’n saak waar ’n bejaarde egpaar in hul huis aangeval en so brutaal doodgemaak word.”
Cannon kon nie enige versagtende omstandighede vind nie en het hom tot 15 jaar tronkstraf vir die moord en vyf jaar vir poging tot moord gevonnis. Dit sal nie gelyktydig uitgedien word nie.
Hy kom eers nadat twee derdes van sy vonnis uitgedien is in aanmerking vir parool en moet na Zimbabwe gedeporteer word met sy vrylating.
)Kamudzi het in 2006 drie maande tronkstraf uitgedien vir diefstal, waarna hy na Zimbabwe gedeporteer moes word. Hy was wel terug na Zimbabwe, maar het teruggekeer. Hy het nie die nodige dokumente om in Suid-Afrika te wees nie.
)Op 30 Julie het sy Christopher Hendricks (31) tot twee keer lewenslank en nóg 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moorde op mnr. Stefan Joubert (72) en sy vrou, Anita (75), op 16 Maart 2008 in hul huis in Somerset-Wes.
Volg Nuus24 op Twitter.