Man red werker uit brandende gebou
2010-12-11 06:24
Die Burger
Stellenbosch - ’n Werknemer aan die Universiteit Stellenbosch het waarskynlik haar lewe te danke aan die heldhaftige optrede van ’n man wat haar uit ’n kantoor op die derde verdieping van ’n brandende gebou op die kampus gered het.
Die dak en boonste verdieping van die R.W. Wilcocks-gebou, op die hoek van Ryneveld- en Victoriastraat, was Vrydag teen 16:00 in ligte laaie, met vlamtonge wat selfs hoër as die omliggende akkerbome gelek het.
Aan die Wilgenhof-manskoshuis se kant van die gehou het verslae omstanders toegekyk hoe Theresa van Rooyen, verbonde aan die departement sielkunde, by haar kantoorvenster op die derde verdieping probeer uitklouter. Agter haar was die vlamme duidelik sigbaar.
Omstanders en kollegas onder die venster het ’n duvet in die hande gekry sodat sy kon spring. Die helfte van die skare het gegil dat sy moet spring, die ander heflte dat sy moet wag.
Grant Leukes van die internasionale kantoor, Eric Saal, ’n PhD-student, en ’n onbekende lid van die universiteit se beskermingsdienste het die trappe van die brandende Wilcocks opgestorm en ’n deur op die tweede verdieping oopgeskop.
Leukes het toe ten aanskoue van almal in die straat by ’n venster op die tweede verdieping uitgeklim, Van Rooyen se voete beetgekry en haar tot op sy skouers laat afsak.
Só het hy haar na veiligheid gebring.
Dr. Hans Heese, ’n argivaris, het gesê die kluis waar die argiewe bewaar word, word deur koolsuurgasspuite en ’n dik betonblad beskerm.
Hestea de Wet van die internasionale kantoor, wat kantore op die Wilcocks se tweede verdieping het, het vertel hoe almal voordeur toe gestorm het toe pikswart rookwolke skielik in die binneplein van die gebou begin uitborrel het.
“Op die trappe tussen die rook deur het ek net gesien hoe mense met stapels lêers grondverdieping toe hardloop.”
Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die US, het sowat twee uur ná die brand gesê ’n volledige ondersoek sal later gedoen word om die skade te bepaal.
Die dak en die boonste verdieping van die gebou is verwoes.
Leon Morta, brandweerhoof van die Stellenbosch-munisipaliteit, het gesê hulle is om 15:45 na die toneel ontbied.
Hy bespiegel in dié stadium dat die oorsaak van die brand te doen kon hê met die onderhoudswerk wat met die seël van die dak aan die gang was.
- Die Burger