Man rand glo sy ouma aan
2011-10-20 09:03
Welkom – ’n Ouma lê in die waakeenheid van die St. Helena-private hospitaal in die stad nadat sy na bewering deur haar kleinseun aangerand is.
Die klein 79-jarige vrou het harsingskudding, haar wangbeen is op vyf plekke gebreek en sy het ’n blou-oog.
Die kleinseun, Jacques Weideman, het Woensdag in die Welkomse landdroshof op ’n aanklag van aanranding verskyn.
Babs Weideman van Doorn word vandag geopereer. ’n Plaatjie sal onder meer in haar wangbeen ingeplant word.
Sy sê sover sy kan onthou, het die beweerde slanery gevolg op ’n woordewisseling oor ’n telefoonoproep.
Sy sê sy kan nie onthou hoe sy by die hospitaal uitgekom het nie.
Iemand moes ’n ambulans gebel het.
’n Klag is by die polisie ingedien.
Mev. Weideman se seun, Nick (57), sê dit is nie die eerste keer dat sy ma aangerand is nie. Sy het in 2007 ’n beskermingsbevel gekry.
“Jacques het by my grootgeword. Hy en sy ma, Leonie, het by my kom bly toe hy ’n baba was.”
Sy ma is na verneem word ongeveer drie jaar gelede oorlede.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad