Man probeer 5-jarige in ryk buurt ontvoer
2010-02-10 06:49
Klerksdorp. – “Mamma, gaan hulle my vanaand kom haal?”
So wou ’n meisie (5) weet wat Maandag helder oordag byna ’n ontvoeringslagoffer in een van dié stad se rykmansbuurte was.
Haar ouma (73) het verbete aan haar bly klou, geskree en die booswig probeer keer toe hy die kind gryp. Die gesin se name word op hul versoek om veiligheidsredes weerhou.
Die ouma sterk in die Wilmed Park- Private Hospitaal aan. Sy het kneusplekke aan haar bolyf en rug, het erge hartkloppings gekry en aan erge skok gely ná die voorval omstreeks 14:50 in Williamstraat. Die kind is ook erg geskok en het kneusplekke op haar rug opgedoen.
“Ons het gaan stap. ’n Onbekende man het voor my kom staan en my met sy lyf gekeer om verder te loop. Hy het gevra watter straat dié is. Ek het hom geantwoord en wou aanstap. Ek het my kleindogter vasgehou en die volgende oomblik het hy haar gegryp. Ek het geklou en geskree. In ’n stadium het ek en sy geval. Ek weet nie waar my krag vandaan gekom het nie,’’ sê die ouma wat presies ’n jaar gelede in haar vorige huis oorval en byna vermoor is.
Die aanvaller het destyds onder meer sy vuis in haar keel afgedruk om haar te probeer versmoor. Sy bly sedertdien by haar dogter en skoonseun.
’n Vrou wat eergister daar verbygery het, het gesien hoe die man die kind gryp en dadelik omgedraai en na hulle toe gery. Die aanvaller het toe laat spaander.
“ ’n Entjie vorentoe het ’n bottelblou motor met nog drie mans gestaan. Hulle het toe al vier in die motor gevlug. Ek kon nie sien watter motor dit was nie,’’ sê die ouma.
Sy en haar familie het groot lof vir die vrou wat dapper genoeg was om betrokke te raak en só ’n moontlike tragedie af te weer.
Die meisie se ma sê haar hele gesin is getraumatiseer deur die voorval. “My dogter wou weer in haar bababed slaap en is bang. My seun (8) is nie eens vandag (Dinsdag) skool toe nie. Kyk uit na verdagtes in jou omgewing. God het my kind beskerm en almal van alle rasse en gelowe moet bid dat hierdie boosheid uit ons stad verdwyn.’’
’n Selfoon wat uit die kind se sak geval het, is in die aanval gesteel.
Insp. Wilmarie van der Merwe, provinsiale polisie woordvoerder, het bevestig hulle ondersoek tans net ’n roofklag.
- Beeld