Man op parool probeer vrou beroof
2012-01-12 15:54
Johannesburg – ‘n Veroordeelde moordenaar wat op parool vrygelaat is, is in hegtenis geneem ná ‘n poging tot roof, het die polisie in die Oos-Kaap gesê.
Lt.kol. Mtati Tana sê die man het ‘n skroewedraaier gebruik om ‘n vrou in Quigney, Oos-Londen, te probeer besteel.
Tana sê die 49-jarige man is Donderdagoggend omstreeks 07:30 in aanhouding geneem nadat hy deur een van die vrou se kollegas aangekeer is.
Die kollega het die rooftog gestop en die man met ‘n vuurwapen aangehou totdat die polisie opgedaag het.
Die man is in 1989 tot lewenslange tronkstraf gevonnis ná hy op aanklag van moord en roof skuldig bevind is. Hy was tussen 2007 en 2008 op parool vrygelaat.
Tana sê die man het nie op 9 Januarie by die Mthatha-polisiestasie opgedaag nie. Dit was deel van sy parool-voorwaardes.
Hy is intussen Mthatha toe geneem en aan korrektiewe dienste oorhanding. Hy sal weer in die tronk toegesluit word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA