Man ondervra oor skietery op plaas
2011-09-06 12:28
Bloemfontein – 'n Man van Harrismith is Dinsdag deur die polisie ondervra oor 'n voorval op 'n plaas waarin 'n vrou met 'n haelgeweer geskiet is.
Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het gesê agt mense is in Intabazwe in hegtenis geneem toe die polisie sake van huisroof en rooftog ondersoek het.
Inligting het die polisie gelei na 'n plakkershut waar 'n haelgeweer, luggeweer en vermoedelik gesteelde huishoudelike toestelle van meer as R5 000 gevind is.
Mophiring het gesê sommige van die gesteelde items word verbind met 'n inbraak op 'n plaas in die distrik, waar 'n haelgeweer verlede maand gesteel is.
Die polisie het gesê 'n 21-jarige man sal ondervra word oor die aanval op die plaas Alfa in die Harrismith-gebied.
'n Vrou het op 2 September gaan kyk hoekom haar honde blaf toe iemand buite die huis haar met 'n haelgeweer skiet.
Al agt mense, waaronder vier vroue, sal na verwagting Dinsdag in die Harrismith-landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak en diefstal.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA