Man ondervra ná moord op ma, vyf kinders
2012-12-31 09:40
Durban – Die polisie in KwaZulu-Natal ondervra 'n man in verband met die moord die naweek op 'n vrou en haar vyf kinders, het 'n woordvoerder Maandag gesê.
Kol. Vincent Mdunge het gesê hy kan nie enige besonderhede oor die man wat in verband met die moord in Inanda ondervra word, onthul nie, weens "die sensitiewe aard van die ondersoek".
Die lyke van die 38-jarige winkeleienaar Nobuhle Leneha en haar vyf kinders is Sondag deur haar swaer gevind. Hy het haar huis besoek toe hy haar nie Saterdag in die hande kon kry nie.
Hy het die lyke van die vyf kinders in 'n kamer gevind waar dit op mekaar gestapel was. Leneha se lyk het in die gang gelê.
Die enigste oorlewende was 'n baba, tussen 14 en 17 maande oud.
Dié kind was aan sy ma se lyk vasgebind.
The Mercury het Maandag berig dat die baba nie beseer is nie, maar wel ontwater en honger was.
Leneha het volgens Mdunge 'n wond in haar bors gehad, maar daar moet nog vasgestel word of dit weens 'n geweerskoot of messteek is.
Die vrou se man was ten tye van die moorde, wat waarskynlik Saterdag plaasgevind het, nie tuis nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA