Vermeende kinderverkragter moet 100 jaar kry, eis ma’s
2010-11-25 10:00
Volksblad
Kroonstad – Tronkstraf van altesaam 100 jaar is Woensdag geëis vir die Kroonstadse man wat na bewering vier kinders onder die ouderdom van tien jaar wreed verkrag het.
Emosionele spanning het hoog geloop toe ongeveer tien ander ontstoke ma’s saam met die verkragtingslagoffertjies se ma’s na die hofgebou op Kroonstad opgeruk het.
Die slagoffers is onderskeidelik tien, nege, ses en vier jaar oud.
Die verdagte, 33, het Woensdag vlugtig in die distrikshof vir ’n borgtogaansoek verskyn.
Terwyl minstens een van die slagoffers se ma in die hof gesit het, het ander saam met woedende ma’s van die woongebied Maokeng se wyk9 plakkate voor die hofgebou rondgeswaai.
“Minister Cele, ons soek meer veiligheid in Maokeng,” was die wekroep wat per plakkaat aan genl. Bheki Cele, die nasionale polisiehoof, gerig is.
“As die ma’s van hierdie kinders, word ons gedwing om hulle 100% te beskerm. Ons soek 100 jaar tronkstraf vir die verkragter,” het ’n ander plakkaat gelui.
’n Groep vroue het hoorbaar na hul asems gesnak toe die verdagte in die hof gebring is.
Die vermeende verkragter in ’n geruite hemp en ’n wit baadjie het in die beskuldigdebank rondgetrippel en met sy neus gevroetel.
Hy het sy vrou se swangerskap aangevoer as rede hoekom hy op borgtog vrygelaat moet word.
Sy is sewe maande swanger en hy wil haar bystaan.
Landdros Dirk Visagie het aan die verdagte gesê dié beweerde oortredings kom eerste en nie die verpligtinge aan sy swanger vrou nie.
“Baie jong kindertjies is hier betrokke,” het Visagie gesê.
Die verdagte is ook op mediese behandeling en het ’n bruinpapiersakkie vol pille in die hof rondgeswaai as nog ’n rede hoekom borgtog aan hom toegestaan moet word.
Die borgtogaansoek is tot 9 Desember uitgestel sodat die verdagte met sy prokureur oor onder meer sy geestestoestand oorleg kan pleeg.
Jack Motaung tree vir die staat op.
Yolandé Erasmus van die regshulpraad verteenwoordig die vermeende verkragter.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad