Man mishandel stiefdogter glo vyf jaar lank
2011-07-18 20:38
Bloemfontein – ‘n Man van Vrede in die Vrystaat is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy stiefdogter die afgelope vyf jaar lank seksueel mishandel het, het die polisie in die Vrystaat Maandag gesê.
Volgens sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die 47-jarige man na bewering sy 12-jarige stiefdogter seksueel mishandel sedert sy sewe jaar oud was.
Hy het gesê die man is in hegtenis geneem kort nadat ‘n maatskaplike werker die kwessie oor die naweek aan die polisie gerapporteer het.
“Die kwessie is onder die aandag van maatskaplike werkers in die gebied gebring ná ‘n onlangse voorval.”
Volgens Mophiring het die meisie maatskaplike werkers vertel van ‘n beweerde voorval verlede maand op die pad tussen Vrede en Standerton.
Hy het gesê alhoewel die man haar blykbaar R10 betaal het om stil te bly oor die jongste voorval, het sy dit aan ‘n maatskaplike werker gerapporteer.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA