Man met vuurwapens by lughawe vasgetrek
2009-10-23 23:09
Johannesburg – ‘n 35-jarige man is by Durban se Internasionale Lughawe vasgetrek nadat hy glo probeer het om vuurwapens, ammunisie en selfone vanuit Suid-Afrika na Ghana te smokkel.
Volgens snr. supt. Vishnu Naidu, polisiewoordvoerder, is die man Donderdag deur die polisie op die lughawe vasgetrek nadat hulle ‘n wenk ontvang het.
“Die polisie het ‘n verskeidenheid vuurwapens, asook verskeie rondes ammunisie en vyf selfone in die verdagte se tas gevind.”
Een van die vuurwapens is glo tydens ‘n rooftog in Pietermaritzburg uit ‘n huis gesteel.
Die man, wat van Ghana afkomstig is, het aan die polisie gesê dat iemand die selfone aan hom verkoop het.
Hy sal Maandag in Wentworth in die landdroshof verskyn.
–Sapa