Man met foonporno betrap
2010-03-25 08:41
Wolfram Zwecker, Beeld.
Johannesburg - ’n Man wat deur die polisie betrap is in ’n motor wat hy glo sonder die eienaar se toestemming gebruik het, was ook in besit van vyf selfone met byna 500 naak- en pornografiese foto’s van verskeie vroue daarop.
Die 46-jarige man, wat glo al tot ses vroue ingeloop het en geen vaste adres het nie, verskyn vandag in Brakpan in die landdroshof op ’n aanklag van die gebruik van ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming én op ’n aanklag van diefstal van sowat R90 000 van ’n ander vrou.
Kapt. Joep Joubert van die Brakpan-polisie het bevestig dat die verdagte hier gearresteer is.
Die diefstalklag spruit uit ’n voorval aan die begin van die maand toe die man na bewering die geld uit ’n vrou (in haar 60’s) se kluis gevat en glo daarmee onder meer ’n rekenaar vir ’n ander (48-jarige) vrou gekoop het.
Volgens Beeld se inligting ontmoet die man, wat homself as ’n rekenaartegnikus voordoen, vroue in seksgeselsgroepe op die internet.
Wanneer hulle hom nooi om vir hulle te gaan kuier, kom hy glo met sy tas daar aan en trek dan sommer in.
Dit is vermoedelik tydens sy verblyf by dié vroue dat hy die foto’s van hulle geneem het.
Die polisie bekyk tans klagte van vroue in Brakpan, Pretoria, Johannesburg en Polokwane wat beweer die man het hulle ingeloop.
Mense wat vermoed hulle was dalk ook slagoffers, kan insp. Vossie Vosloo bel by 011 741 4800.
- Beeld