Man met dwelms betrap op Kaapstadse lughawe
2011-09-09 18:02
Kaapstad – 'n Nigeriese man (39) van Johannesburg is op die Kaapstadse Internasionale Lughawe in hegtenis geneem nadat tik met 'n straatwaarde van R275 000 in sy besit gevind is, het die polisie Vrydag gesê.
Die man, wat van die Lanseria-lughawe gevlieg het, het verdag voorgekom, waarna die polisie sy bagasie deursoek het, het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê.
'n Plastieksak met sowat 1 kg tik is in sy bagasie gevind.
Die man is in polisie-aanhouding en sal Maandag op aanklag van dwelmhandel in die Bellville-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24