Man met af keel gekry
2011-08-17 07:02
Smithfield – ’n Voorman van die maatskappy wat die pad tussen Smithfield en Reddersburg herbou, is vermoedelik deur ’n kollega of kollegas wreed vermoor.
Jaco Beukes (42), ’n voorman van Rainbow Construction, is die naweek dood langs die pad gekry nadat sy keel afgesny is en hy met klippe oor die kop geslaan is.
Die vermoede bestaan dat ’n kollega of kollegas hom vermoor het, nadat hy hom of hulle glo gekonfronteer het omdat ’n vragmotor van die maatskappy misbruik is.
Beukes se getraumatiseerde verloofde, Louise Brussel, wat Sondag saam met hom na Wepener gery het, het vir haar lewe gevlug toe hy langs die pad vermoor is.
“Ons wou gaan sightseeing doen. Ons was nog nooit daar nie,” het sy gesê.
Lt.kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, sê Beukes het die vragmotorbestuurder sowat 10 km voor Smithfield gekonfronteer.
Die vragmotorbestuurder het glo met die vragmotor teen Beukes se bakkie vasgery.
’n Woordewisseling het uitgebreek en Beukes het aan Brussel gesê: “Hier kom moeilikheid. Hardloop.”
Sy en kollegas van Beukes het later op sy lyk, met sy keel afgesny en met veelvuldige kopbeserings, afgekom op die plek waar die onderonsie met die vragmotorbestuurder plaasgevind het.
Die polisie op Van Stadensrus is ontbied.
Wrensch sê die polisie is op die moordenaar of moordenaars se spoor.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad