Man met 1 been klim Kilimandjaro
2009-08-14 06:25
Hilda Fourie
Hy het sy kunsbeen by die huis gelos en Kilimandjaro met net sy een been en twee krukke uitgeklim.
’n Glimlag duik telkens op mnr. Gert Schoonbee (41) van Waterkloof, Pretoria, se gesig op wanneer hy praat oor dié sewe dae lange staptog na Tanzanië se grootste wonder.
“Dit was baie tawwer as wat ek gedink het,” het Schoonbee eergister gesê.
Schoonbee, wie se linkerbeen in sy matriekjaar ná ’n frats-ongeluk bo sy knie afgesit is, was deel van ’n groep van nege mans wat dié berg verlede week uitgeklim het.
Hy het sy “goeie kunsbeen” by die huis gelos en net met sy krukke gegaan omdat hy gemakliker is met die krukke op ruwe terrein.
Ses weke voor die staptog het hy eers intensief begin oefen. Hy was minstens vyf keer ’n week ’n uur en ’n half lank in die gimnasium en het naweke vier tot ses uur lank – sonder sy kunsbeen – gaan stap.
Volgens Schoonbee was almal die eerste dag opgewonde om hul skoene en sakke uit te toets, maar was die reënwoud ’n “wake-up call”.
“Daar is net heeltyd ‘pole, pole’ (‘stadig, stadig’ in Swahili) gesê,” het Schoonbee gesê.
“Hoe stadiger jy loop, hoe groter is die kans dat jy bo gaan uitkom.
“Jy moet nooit uitasem raak nie, want as jy uitasem raak, word jy naar, gooi jy op en is jou ritme heeltemal gebreek.”
Schoonbee het die eerste keer op die vyfde dag begin moedeloos raak toe hulle, op pad na die berg se hoogste punt, die gruis geslaan het.
Op plekke het sy krukke tot by sy handvatsels in die gruis weggesink. Waar sy medestappers ’n halwe meter kon gee, het hy skaars 100 mm vorentoe beweeg.
“Ek het in ’n stadium die hoofgids gevra hoe lank dit gaan aanhou. Ek het geweet dis ’n gemors toe hy sê ek wil liewer nie weet nie,” het Schoonbee gesê.
“ ’n Amerikaner wat verbygekom het, het aan my gesê die enigste probleem met halfpad gaan, is dat jy nie kan sê jy het iets bereik nie. Ek het besef ek moet die meeste daarvan maak.
“Dit was ’n groot oomblik toe ek dit uiteindelik gemaak het.”
Volgens dié pa van drie het die feit dat hy net een been het hom net nog meer vasberade gemaak om sekere dinge in die lewe te bereik.
“Ek kan of totaal normaal of pateties wees. Daar is nie ’n tussenin nie,” het Schoonbee gesê.
- Beeld