Man lewend begrawe toe put ineenstort
2010-07-31 16:51
Johannesburg - 'n Man is lewend begrawe toe tonne sand Saterdag op hom en 'n medewerker geval het naby die Inanda-waterval buite Durban, het paramedici in KwaZulu-Natal gesê.
Volgens Jeff Wicks, woordvoerder vir Netcare911, was die mans besig om 'n put te grawe toe die ongeluk plaasgevind het.
"Ons dink die mans was besig om te grawe aan die voet van 'n muur in die put toe dit op hulle ingeval het," het Wicks in 'n verklaring gesê.
Volgens Wicks was die put blykbaar 'n gewilde plek vir plaaslike inwoners om pleistersand te vind.
Een man is heeltemal begrawe, terwyl sy medewerker daarin geslaag het om homself los te wikkel, en hulp te soek, het Wicks gesê.
Die man se lyk is binne 'n uur deur die polisie se reddingspan uitgegrawe.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA