Man lewend begrawe op Kaapse strand
2011-08-24 19:32
Johannesburg – ‘n Man het oorleef nadat hy lewend begrawe is op ‘n Kaapse strand, ‘n dag nadat hy in Macassar ontvoer is, het beamptes van die stad gesê.
Hy en twee van sy vriende is Dinsdag in ‘n Toyota Quantum met agt insittendes geboender, het Richard Bosman, woordvoerder van veiligheid en sekuriteit, gesê.
Hulle is na ‘n strand geneem en gedwing om hul eie grafte te grawe.
Twee van hulle het daarin geslaag om te ontsnap en het blitspatrollie-beamptes kort voor middernag naby die Wolfgat Natuurreservaat afgetrek, het Bosman gesê.
Hulle het hul na die strand gehaas, waar hulle die derde man gevind het. Hy is vertikaal in die sand begrawe met ‘n klip op sy kop.
“Hulle [die ontvoerders] het gehoop die gety sou inkom en hom verdrink,” het Bosman gesê.
Die beamptes het hom uitgegrawe en hom na die Mitchells Plain-polisiekantoor geneem, waar hy deur reddingsdienste-beamptes ondersoek is voordat hy na die Mitchells Plain-hospitaal geneem is, het hy gesê.
Die motief vir die ontvoering is nie bekend nie.
Volgens Bosman is drie mans later in hegtenis geneem. Hulle is gevind waar hulle weggekruip het in die nabyheid van die Wolfgang Natuurreservaat.
Hulle is na die Delft-polisiekantoor geneem en aangekla van ontvoering en poging tot moord.
Die polisie is steeds op soek na die ander ontvoerders.
- Volg Nuus24 op Twitter