Man langs sy vrou in bed doodgeskiet
2010-07-12 08:03
Johannesburg - ’n Man (61) van Vanderbijlpark wat ná ’n operasie tuis aangesterk het, is Sondagoggend koelbloedig langs sy vrou in hul bed doodgeskiet toe twee huisrowers in hul slaapkamer ingekom het.
Neels Jansen van Roodia-kleinhoewes buite die dorp is na verneem word kort gelede uit die hospitaal ontslaan ná ’n breuk-operasie.
Volgens konst. Edwin Ntsheo, polisiewoordvoerder, is Jansen een keer in die maag geskiet.
“Die rowers het om ongeveer 04:30 die diefwering voor ’n venster afgebreek en so toegang tot die huis gekry,” het Ntsheo gister gesê.
Jansen se vrou is op die bed langs haar man vasgebind voordat sy gehoor het hoe ’n skoot afgaan.
Sy het kort daarna, steeds vasgebind, maar nog onbewus daarvan dat haar man doodgeskiet is, vir die rowers gaan wys waar hulle geld kan kry.
Hulle het op onder meer geld en vuurwapens aangedring.
Sy het daarna haar bebloede man bewegingloos op die bed sien lê.
“Sy het eers gedink sy operasiewond het weer begin bloei, maar gou besef hy is geskiet,” het ’n familievriend, wat nie sy naam genoem wil hê nie, gister op die moordtoneel gesê.
Sy het die rowers glo gevra of sy haar man mag help, maar is aangesê om hom uit te los.
“Moenie worrie nie, ons het klaar die ambulans gebel,” het een van die rowers, volgens ’n betroubare bron, in Engels geantwoord.
Die rowers het hierna met onder meer ’n onbekende bedrag geld en drie selfone in ’n voertuig, wat buite onder die hoewehuis se afdak geparkeer was, gevlug.
Ntsheo het bevestig die rowers het in ’n wit Mazda-bakkie gevlug, maar kon nie sê wie die eienaar van die voertuig is nie.
Die egpaar se dogter en haar seun, haar twee dogters en twee vriende van haar kinders het ten tye van die aanval uit Kimberley op die kleinhoewe gekuier. Dit is nie bekend of hulle ook aangeval is nie.
Hul name is onbekend.
Die geskokte familie het die polisie en paramedici se hulp ontbied.
“Paramedici het na die kleinhoewe gejaag, maar kon maar net die man se doodsverklaring teken,” het Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
Mev. Jansen, wat erg getraumatiseer is, is deur haar huisdokter vir skok behandel.
Ntsheo het gesê die rowers in die huis het op hul selfone met nog ander lede van die roofbende buite die hoewehuis gepraat.
“Ons ondersoek sake van moord en gewapende huisroof,” het hy gesê.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.
- Beeld