Man kuier, los kind in motor
2010-06-21 08:14
Pieter Steyn, Beeld
Bloemfontein. – ’n Man is die naweek in ’n kuierplek in hegtenis geneem op ’n klag van kinderverwaarlosing.
Die polisie het die man (25) Saterdagoggend aangekeer omdat sy tweejarige seuntjie alleen buite in die motor was terwyl hy binne gekuier het.
Volgens kol. Annelie Wrensch, polisiewoordvoerder, het die man en sy vrou (23) die seuntjie glo etlike ure alleen in die motor gelos terwyl hulle gefuif het.
Hy het in ’n spesiale na-uurse hofsitting op aanklag van kinderverwaarlosing verskyn en is op R500-borgtog vrygelaat.
Die ma sal dalk Maandag gearresteer word.
Die man moet Maandag weer in die landdroshof verskyn.
- Beeld