Man kry psigiatriese hulp ná gesin se wurgdood
2011-05-31 08:00
Johannesburg - Die pa van Linden wat sy vrou en verlamde seun glo met ’n serp in hul slaapkamers verwurg het, sal tot sy borgtogaansoek vir psigiatriese hulp in die hospitaalafdeling van die Johannesburg-gevangenis aangehou word.
Barend Jacobus (Ben) Engelbrecht (51) het Maandag vlugtig in die Johannesburg-landdroshof op twee aanklagte van moord verskyn.
Hy het sy vrou, Ina (49), en seun, Kobus (22), na bewering Vrydagoggend vroeg in hul huis in Tweede Laan vermoor.
Kapt. Katlego Mogale, Gautengse polisiewoordvoerder, het vroeër bevestig die polisie het Engelbrecht se polisiesel by die Linden-polisiekantoor die naweek streng gemonitor, aangesien hy kort ná die moorde glo probeer selfmoord pleeg het deur homself in die gesin se motor te vergas.
S. van der Merwe, Engelbrecht se regsverteenwoordiger, het die hof Maandag versoek om sy kliënt in die hospitaalafdeling van die Johannesburg-gevangenis aan te hou “vir ondersteuning en psigiatriese hulp aangesien die slagoffers in die saak sy vrou en kind is”.
Colleen Ryan, staatsaanklaer, het gesê die staat staan nie dié versoek teen nie.
Familielede van Engelbrecht wat in die openbare galery gesit het, het gesê “hy lyk sleg” toe hy, grys en geklee in ’n roomkleurige baadjie, in die beskuldigdebank verskyn het.
Terwyl Engelbrecht na die aanhoudingselle by die hof afgeloop het, het hy vinnig vir sy familielede gewaai, van wie sommige trane afgevee het.
Volgens Volksblad se susterkoerant Rapport het een van Engelbrecht se broers, Stoffel, gesê hy “dink dis ’n kwessie van depressie oor sy seun se toestand”.
Engelbrecht jr. se nek is in 2007 gebreek in ’n rugbywedstryd tussen die tweede spanne van die Hoërskool Linden en die Hoërskool Riebeeckrand van Randfontein.
Hy was ten tyde van sy dood ’n B.Com.-rekenaarkunde-student in sy derde jaar aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Van der Merwe het by navraag gesê aangesien Engelbrecht tot sy borgtogaansoek later in Junie in aanhouding sal wees, sal hy nie die roudiens vir sy vrou en seun Donderdag in die NG kerk Lindenpark kan bywoon nie.
Die oorledenes sal daarna veras word.
- Volksblad