Man kap verpleegster met byl dood
2011-04-28 07:59
Welkom - ’n Verpleegsuster van die stad is Woensdagoggend vroeg hier in die middel van ’n straat na bewering deur haar gewese vriend met ’n splinternuwe byl doodgekap nadat hy glo eers ’n motorbotsing veroorsaak het om haar te laat stilhou.
Emily Mojabeng Tabo (36) het reeds ’n beskermingsbevel teen dié man gehad voordat hy haar na bewering Woensdag ná die motorbotsing oorval het.
Sy het probeer vlug, maar hy het haar na bewering na die motor teruggesleep en verskeie kere met die byl gekap en haar bykans onthoof.
Haar erg geskokte kollega en vriendin, wat saam met haar gery en voor wie se oë die grusame moord plaasgevind het, is deur bestuur van die Bongani-hospitaal vir traumabehandeling gestuur.
Inwoners van Koppie Alleenweg voor wie se huise die moord plaasgevind het, sê hulle is omstreeks 05:45 gewek deur die bloedstollende gille van ’n vrou. Sy het onder meer aanhou skreeu: “Help my! Help my!”
Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, sê sy is na buite waar sy die erg verminkte vrou langs die middelman in die straat gekry het. Sy was dood en haar vermeende moordenaar was weg.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê Tabo en haar kollega was op pad na die Bongani-hospitaal waar hulle werk toe ’n man van agter teen haar motor gebots het.
Sy het stilgehou en hy het haar uit die motor geruk. Sy het probeer weghardloop, maar hy het haar oorval en verskeie keer met die byl gekap.
Thakeng sê Tabo is bykans heeltemal onthoof, haar een vinger is afgekap en sy het verskeie kapwonde oor haar arms en hande gehad soos sy probeer keer het.
Die vriendin het om hulp geskreeu, maar toe niemand opdaag nie, het sy weggehardloop. Die verdagte, wie se eie motor in die botsing beskadig is, het daarna in Tabo se groen Toyota Tazz weggejaag.
Verbygangers wat Tabo se lyk in die pad gekry het, het die polisie ontbied.
Die moordtoneel is 1,6 km van Tabo se huis. Die splinternuwe byl met die prys steeds daaraan is langs haar lyk gekry.
Die vermeende moordenaar het enkele ure later naby Brandfort met die motor van die pad gery en in die modder vasgeval.
Hy het ’n insleepdiens gebel, wat onraad gemerk en die polisie ontbied het. Die twee vroue se handsakke is in die motor gekry. Inligting is opgevolg en die verdagte is daar in hegtenis geneem.
Thakeng sê die 37-jarige man het pas uit die tronk gekom waar hy ’n vonnis van vyf jaar uitgedien het weens poging tot moord nadat hy ’n vorige vriendin geskiet en gewond het.
- Volksblad