Man ingeloop met vakansieverblyf
2010-12-17 08:13
Beeld
Durban – Dit was so hittete of ’n geskeide pa se jaarlikse vakansie met sy drie kinders aan die KwaZulu-Natalse suidkus was na die maan nadat ’n vrou wat akkommodasie geadverteer het, hom met duisende rande ingeloop het.
Was dit nie vir die goedhartigheid van vriende van sy suster se verloofde nie, sou hy en sy kinders begin vandeesweek bedroë sonder ’n vakansie na Brakpan moes terugry, het Neil Mason (54) gesê.
Sy drie kinders was baie afgehaal toe hulle Maandag in Margate aankom en uitvind die tweeslaapkamerhuis wat hy vir die week van ene Y. van Heerden gehuur het, behoort eintlik aan die buurvrou.
Mason het die advertensie vir vakansie-akkommodasie in Oktober in die Junk Mail aan die Rand gesien.
Dit sou R400 per dag kos om die huis te huur, terwyl Mason gewoonlik tussen R600 en R750 per dag vir akkommodasie betaal wanneer hy en sy kinders jaarliks in die somervakansie aan die suidkus kom uitspan.
“Met die ekonomie soos wat dit is, het ek gedink ons sal ’n paar ekstra rand hê vir sakgeld,” het Mason gesê.
“Ek het die vrou nog ewe gevra of die akkommodasie regtig bestaan toe ek die eerste keer met haar gepraat het,” het dié masjinis in ’n ingenieurswerkwinkel gesê.
“Sy het gesê sy verhuur akkommodasie en is nie soos ander mense wat jou inloop nie.”
Mason het in November R1 600 as deposito by ’n Absa-spaarrekening in Margate inbetaal en die vrou het skielik verlede Vrydag op die orige R1 200 aangedring.
Toe hulle Maandag by die huis by Marinerylaan 35 in Margate aankom, het alles gelyk soos die vrou dit beskryf het: DStv, braaigeriewe en ’n toesluitmotorhuis.
Van die huiswerker wat hulle daar sou ontmoet, was daar egter geen teken nie. Toe Mason by die buurvrou navraag doen, hoor hy dat die huis eintlik aan háár behoort.
Ná ’n geskarrel het hulle tot Woensdag gratis blyplek in ’n tuinwoonstel gekry. Gister moes Mason en sy kinders egter ander akkommodasie teen R400 per dag huur. Hy het ’n klag by die polisie ingedien.
Volgens lt.kol. Zandra Wiid, polisiewoordvoerder, word ’n saak van diefstal onder valse voorwendsels ondersoek. Sy het gesê dis die eerste keer dat sy hoor dat vakansiegangers so aan die suidkus ingeloop word.
- Volg Nuus24 op Twitter.