Man in stort deur weerlig doodgeslaan
2011-06-08 22:01
Johannesburg - Weerlig het vermoedelik Woensdag ‘n man in die badkamer van sy huis in Parkwood, Johannesburg, doodgeslaan, het paramedici van ER24 gesê.
Vanessa Jackson, woordvoerder, het gesê die 33-jarige man was in die stort toe ‘n storm losgebars het.
Sy bure het sy lyk gevind. Hulle het besorgd geraak toe hulle merk hy het nog nie werk toe vertrek nie. Hulle het die huis binnegegaan toe hy nie sy selfoon geantwoord het nie.
Paramedici het hom gevind waar hy in die bad gelê het.
“Die tuin van die huis en die omliggende gebiede is ernstig geraak deur die storm. ‘n Nabygeleë skool se dak is amper afgewaai,” het sy gesê.
“Mense het gesê weerlig het baie luid en klaarblyklik naby aan die huis getref,” het sy gesê.
“Die weerlig het vermoedelik ‘n rol gespeel in die man se dood, aangesien hy andersins fiks en gesond was.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA