Man in hof ná kind se lyk in huis gekry word
2011-10-13 07:03
Johannesburg – ’n 39-jarige man verskyn vandag in die Sasolburg-landdroshof in verband met die verkragting en moord van ’n negejarige meisie.
Merriam Dlamini (35) het haar dogter, Manini Christinah, Sondag by die Deneysville-polisie as vermis aangemeld.
“Dlamini se dogter en vriend was Sondag saam met haar by die werk. Die meisie was moeg.
“Sy het haar vriend gevra om saam met haar dogter huis toe te gaan,” het sers. Sellwane Mapamela, polisiewoordvoerder, gesê.
Die vriend het later aan Dlamini gesê Manini wou na haar ouma en oupa se huis gaan.
Hy het glo halfpad saam met haar gestap.
“Die familie, inwoners, Deneysville-polisie en polisie-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het Dinsdag ’n grootskaalse soektog gedoen.”
Die kind se lyk is Dinsdag om 19:45 in ’n slaapkamer in ’n huis in Highstraat gekry. Die beskuldigde het by dié huis gewerk.
“Sy het ’n oop wond aan haar voorkop gehad.”
Die verdagte word in Deneysville aangehou.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld