Man in hegtenis wat vriend vermoor
2012-01-23 21:56
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy vriend doodgemaak het in ‘n stryery oor ‘n vrou in Mankweng, het die polisie in Limpopo Maandag gesê.
Die 21-jarige man het Maredi Letsoalo Saterdagaand ses keer by ‘n taverne gesteek, het konst. Moses Molepo gesê.
“’n Argument het ontstaan toe Letsoalo by die taverne opgedaag het en geëis het om te weet hoekom die ander man saam met sy meisie sit,” het hy gesê.
“Letsaolo se neef het probeer om tussenbeide te tree, maar hy is ook gesteek in die skermutseling.”
Letsoalo (23) het by ‘n plaaslike hospitaal gesterf. Sy neef is behandel en ‘n paar uur later ontslaan.
Die polisie het die man Sondagoggend in die gebied in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Mankweng-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA