Man in hegtenis ná Marlboro-rooftog
2011-11-02 21:09
Johannesburg – ‘n Man is in hegtenis geneem in verband met ‘n rooftog in Sandton waartydens ‘n sakeman geskiet is, het die polisie in Johannesburg Woensdag gesê.
Die polisie het leidrade opgevolg en die man Dinsdagaand in Tembisa aan die Oos-Rand vasgetrek, het kapt. Kim Cloete gesê.
“Verdere besonderhede is nie in hierdie stadium beskikbaar nie,” het sy gesê.
Die 44-jarige man is vroeër Dinsdag in Marlboro-rylaan geskiet en gewond. Volgens Cloete het die man in ‘n grys Mercedes-Benz gery toe ‘n silwer Peugeot van agter teen die motor gestamp het.
Vier mans het die bestuurder uit sy voertuig gesleep en hom verskeie kere geskiet. Hulle het ‘n onbekende hoeveelheid geld uit sy kattebak gehaal voor hulle weggery het.
Die beseerde man herstel in die hospitaal.
Die man wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn. Volgens Cloete is die polisie steeds op soek na die ander drie mans.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA