Man 'het nie burgemeester ná ongeluk opgelaai'
2010-10-14 09:17
Bloemfontein - Hy het nie die burgemeester “se ontsnappingsmotor bestuur nie”.
Só sê die woordvoerder van die Mangaung-munisipaliteit, Qondile Khedama, in reaksie op Volksblad se voorbladberig oor die omstredenheid rondom ’n ongeluk waarin Playfair Morule, die uitvoerende burgemeester van die munisipaliteit, was.
Khedama het in ’n openhartige onderhoud gesê hy was nie bewus van die ongeluk nie totdat ’n joernalis van Volksblad hom Sondag gebel het om kommentaar.
Ooggetuies sê egter Khedama het Morule in ’n swart dubbelkajuit-bakkie van die ongelukstoneel af “gesteel” voordat die polisie opgedaag het. Hulle sê ook Morule was duidelik onder die invloed van sterk drank toe hy en ’n vrou Saterdag om 04:10 in die ongeluk betrokke was.
Khedama sê hy het nie ’n swart bakkie nie. Hy is bereid om ’n verklaring onder eed af te lê en gaan sy volle samewerking gee indien die polisie dit vereis.
Mense met inligting moet na die polisie gaan, sodat die reg sy loop kan neem, sê Khedama.
Morule was op Vrydagaand 24 September ook in ’n ongeluk betrokke. Hy is in 2008 gevonnis nadat hy in 2006 ’n voetganger middeldeur gery het.
Volksblad het foto’s geplaas van die luukse Mercedes-Benz C63 AMG met die registrasienommer 2 PEOPLE FS wat in die ongeluk betrokke was en vermoedelik deur Morule bestuur is.
Die Mercedes is geregistreer in die naam van die maatskappy Ka Rona Trading 559 Bloemfontein en die maatskappy se adres is dieselfde as Morule se woonadres.
Die eienaar van die maatskappy is T. Morule. Morule se vrou is mev. Tankiso Morule.
Thapelo Matsoeneng het die ander motor wat in die ongeluk betrokke was, ’n rooi Toyota Corolla, bestuur.
Verskeie hooggeplaaste ANC-lede het glo by die ongelukstoneel opgedaag en ooggetuies en polisielede geïntimideer en gedreig.
Die polisie het bevestig die vrou wat tydens die ongeluk in Morule se motor was, was die parlementslid Faith Bikani.
Bikani weier om kommentaar te lewer.
Roy Jankielsohn, leier van die DA in die provinsie, het ’n brief aan premier Ace Magashule gestuur en gevra die “ernstige bewerings van ongerymdhede en moontlik ook strafregtelike dade” rondom die ongeluk moet ondersoek word. “Die strate van Bloemfontein is nie ’n renbaan in die vroeë oggendure nie.”
- Volksblad