Man gooi granaat tussen aanbidders
2010-10-11 12:29
Pretoria – ‘n Man sal Dinsdag na verwagting in die Shoshanguve-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord nadat ‘n handgranaat tussen ‘n groep aanbidders wat ‘n pad versper het, gegooi is.
Volgens ao. Lolo Mangena, polisiewoordvoerder, is die 25-jarige man ook aangekla van die besit van en afvuur van plofstowwe in ‘n openbare plek.
Pretoria News berig dat ‘n man, wat ‘n Volkswagen Golf bestuur het, na bewering die granaat tussen ‘n groep Zion Christian Church-aanbidders gegooi het wat ‘n pad in Shoshanguve versper het.
Volgens die berig is die man aanvanklik deur die gemeentelede gewaarsku om stadiger te ry voordat hulle die pad vir hom oopgemaak het om deur te ry.
Hy het glo tien minute later teruggekeer en die granaat gegooi.
Volgens Mangena is ‘n man tydens die voorval dood en sewe ander mense is beseer.
Die oorledene is as Ephraim Mashishi (38) geïdentifiseer.
Twee van die beseerdes was Maandagoggend nog in die hospitaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA