Man glo vasgetrek ná moord op skoolmeisie
2011-10-13 07:39
Johannesburg – Die polisie in Gauteng sal Donderdagoggend 'n mediakonferensie hou te midde onbevestigde berigte dat 'n man in hegtenis geneem is in verband met die moord op Louise de Waal van Roodepoort.
Op die vraag of hy die inhegtenisneming kan bevestig, het lt. kol. Tshisikhawe Ndou het gesê: "Ons sal om 08:30 'n mediakonferensie by ons provinsiale kantore in Parktown (Johannesburg) hou".
Die SABC het Donderdagoggend berig dat 'n man in hegtenis geneem is.
Beeld het berig dat die polisie 'n man in die Roodepoort-gebied ondersoek nadat Louise se skooltas in 'n motor, met dieselfde beskrywing wat haar vriendin aan die polisie gegee het, gevind is.
Ndou het vroeër gesê 'n silwergrys Toyota Hilux-bakkie, wat na bewering gebruik is om die tiener Woensdagoggend te ontvoer, is verlate by 'n huis in Florida, Roodepoort, gevind.
Volgens Beeld het die polisie die man na bewering ook ’n paar jaar gelede ondersoek omdat hy glo skoolmeisies in die Roodepoort-gebied geteiken het.
Die polisie wag nog op DNS-toetse om te bevestig dat die verbrande lyk wat Woensdag op 'n plaas in Magaliesburg gevind is, dié van Louise is.
Die familie van Louise, 'n leerder aan die Hoërskool Die Burger in Bergbron, Roodepoort, het egter gesê hulle het aan 'n naeltjiering en oorbelle uitgeken.
'n Bakkie het Woensdag omstreeks 07:00 langs Louise en haar vriendin Natasha Gordon stilgehou.
Die man het ’n pistool gehad en gedreig om die meisies net daar dood te skiet as een van hulle probeer skree of weghardloop.
Natasha het weggehardloop en die bakkie het weggejaag met Louise.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA