Man gewond in Marlboro-rooftog
2011-11-01 18:51
Johannesburg – ‘n Man is geskiet en gewond tydens ‘n gewapende rooftog Dinsdag naby Sandton, het die polisie in Johannesburg gesê.
Die 44-jarige man het in ‘n grys Mercedes-Benz gery in Marlboro-rylaan toe ‘n silwer Peugot van agter teen die motor gestamp het, het kapt. Kim Cloete gesê.
Vier mans het uit die voertuig geklim en die bestuurder uit sy motor gesleep. Hulle het hom verskeie kere geskiet, ‘n onbekende hoeveelheid kontant uit die motor se kattebak gehaal en weggejaag.
Die gewonde man is in ‘n ernstige maar stabiele toestand in ‘n hospitaal.
Hy is blykbaar ‘n sakeman wat geld vervoer het, het Cloete gesê.
‘n Saak van gewapende roof word ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA