Man gevang ná dood van vrou en kinders
2012-01-13 08:45
Bloemfontein – ’n Man wat na bewering die naweek ’n ma en haar twee jong kinders in Botshabelo vermoor het, is deur die polisie vasgetrek en verskyn vandag in die hof.
Die 30-jarige man is Woensdag omstreeks 22:00 in Turflaagte, Bloemfontein, deur ’n polisietaakspan onder leiding van ao. Slow Khutlane in hegtenis geneem.
Die man was sedert die naweek voortvlugtend ná die moord op ’n vriendin, Thabiseng Sethuntsha (39), en haar twee kinders, Masabata (13) en Kabelo (nege maande).
Sethuntsha en haar twee kinders se lyke is Sondag in haar huis in N-seksie, Botshabelo, gekry. Sy het veelvuldige steekwonde in haar bors en rug gehad. Haar twee kinders is glo met ’n elektriese draad verwurg.
Volgens konst. Consolation Mokoale, polisiewoordvoerder, het die polisie inligting ontvang oor die vermeende moordenaar en dat hy ’n huis in Turflaagte besit.
Hy is, sonder om enige weerstand te bied, in dié huis in hegtenis geneem.
Hy sal vandag op drie aanklagte van moord in die hof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad