Man geskok ná kaping
2009-10-11 10:20
Johannesburg - 'n Man (25) is erg getraumatiseer nadat hy glo Sondagoggend gekaap en in die kattebak van sy Audi gedruk is.
Paramedici van ER24 is kort na 08:00 na die toneel op die R59 in Duncanville ontbied nadat hulle ingelig is oor 'n ongeluk.
Toe hulle by die toneel opdaag, het hulle 'n omgeslaande motor gekry. Die man het langs die kar gestaan met klein snye en kneusplekke aan sy gesig.
Die man het vir die paramedici gesê vier mans het hom gekaap en in die kattebak gedruk. Hulle het glo vir ure met hom rondgery totdat hulle beheer oor die voertuig verloor het en dit omgeslaan het.
Volgens die man het die kapers by wat hy vermoed 'n vulstasie was gestop. Hy het aandag probeer trek deur geraas te maak, maar die kapers het vinnig weggejaag met hom steeds in die kattebak.
Hy is na die hospitaal geneem vir behandeling.
Werner Vermaak van ER24 sê die polisie het twee verdagtes in 'n nabye veld gekry en sal die saak ondersoek.