Man geskiet, polisiemanne beseer by taverne
2011-11-14 22:08
Johannesburg – ‘n Man is geskiet en drie polisiebeamptes is Maandag beseer in ‘n konfrontasie tussen die polisie en klante by ‘n taverne in Matsulu, het die polisie in Mpumalanga gesê.
Die polisie het omstreeks 15:00 aan die eienaar gesê hy moet die taverne toemaak, aangesien hy oop was buite die ure waarvoor hy gelisensieer is, het kapt. Leonard Hlathi gesê.
Die eienaar en klante het gewelddadig geraak en klippe en bottels na die polisie gegooi.
“Mettertyd het van die klante selfs op die polisie begin skiet,” het Hlathi gesê.
Die klante het daarin geslaag om die polisie te oorweldig en te ontsnap. Niemand is in hegtenis geneem nie.
Drie polisiebeamptes is beseer en een is in die hospitaal opgeneem weens ‘n gebreekte wangbeen en ‘n ernstige kopbesering.
‘n Man is geskiet, maar dit is nie duidelik of hy deur die polisiebeamptes of klante geskiet is nie, het Hlathi gesê.
Hy is in die hospitaal opgeneem.
“Die polisie stel ondersoek in en verwag om binnekort inhegtenisnemings te maak,” het Hlathi gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA