Man geskiet in rooftog by fabriek
2011-08-23 16:09
Johannesburg – ‘n Man is Dinsdag in die kop geskiet toe hy afgekom het op ‘n rooftog wat besig was om plaas te vind by ‘n fabriek in Vereeniging, het paramedici gesê.
“Die pasiënt het gelukkig slegs ‘n vleiswond aan sy kop opgedoen en is in ‘n stabiele toestand,” het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
Die man het vermoedelik van fabriek tot fabriek in die gebied gestap op soek na werk toe hy ingestap het by ‘n fabriek waar ‘n rooftog besig was om plaas te vind.
“Hy was ongelukkig om op daardie oomblik daar in te stap, maar is terselfdertyd uiters gelukkig dat hy nog lewe om die storie te vertel,” het Banks gesê.
Die man, vermoedelik 35 jaar oud, is in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA