Man geskiet in casino-rooftog
2009-11-15 12:39
Johannesburg – ‘n Dobbelaar is gewond toe tien gewapende mans by die Meropa Casino ingestorm het, begin skiet het en met ‘n onbekende bedrag geld gevlug het, het die Limpopo-polisie Sondag gesê.
Supt. Ronel Otto het gesê die mans, gewapen met AK-47’s en 9mm pistole, het sekerheidswagteby die hek oorrompel en die casino in Polokwane net ná 21:00 Saterdag binnegegaan.
“Hulle het na die casino-area gegaan waar hulle nog sekerheidswagte oorrompel het. Daarna het hulle hulle weg tot by die kantoor van een van die bestuurders, maar hulle kon nie toegang tot die hoofkluis kry nie,” het sy gesê.
Toe neem die rowers geld van die kasregisters en kassiere-betaalpunte.
Die verdagtes het die geld in sakke met ritssluiters gesit en gevlug. Op pad uit het hulle ‘n lid van die publiek in sy bors geskiet. Hy is in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.”
Volgens Otto het die mans ook probeer om ‘n deur wat na ‘n kitsbank lei oop te forseer, maar hulle was onsuksesvol.
Die verdagtes het gevlug in ‘n wit Toyota bakkie en ‘n blou Toyota Conquest.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
- Sapa