Man gebruik Zuma-naam om miljoene te kry
2011-07-10 11:00
Johannesburg - ’n Senior amptenaar van die Nasionale Intelligensieagentskap (NIA) het hom as ’n verteenwoordiger van pres. Jacob Zuma voorgedoen in ’n poging om miljoene rand in sy firma se trustrekening oorbetaal te kry.
“Doktor” André Vorster, sedert 1992 in die diens van die NIA, ly ’n ongelooflike dubbele lewe.
Vorster het aan Rapport bevestig hy werk tans nog heeltyds by die NIA-hoofkantoor in Pretoria. Hy het toegang tot geheime dokumente en is betrokke by sensitiewe projekte.
Ten spyte daarvan het hy in 2005 ’n regsfirma, ABVP Law, gestig waarvan die korporatiewe hoofkantoor in Meyerspark in Pretoria is.
’n Parlementslid is een van die firma se direkteure en ’n tak is ook onlangs in Londen oopgemaak.
Boonop is Vorster ’n direkteur van minstens tien ander maatskappye. Hy beweer hy het twee doktorsgrade, maar albei is skynbaar vals.
Brian Dube, NIA-woordvoerder, het by navraag slegs gesê Vorster se bedrywighede word ondersoek.
Rapport het bewyse dat Vorster miljoene rand in skenkersgeld by ’n hulpverleningsagentskap in Brittanje probeer bekom het – glo in die naam van Zuma en die Suid-Afrikaanse regering.
Dr. Edward Cooper, ’n verteenwoordiger van die Fundacion Donaciones Humanitarias, het bevestig hy het Vorster einde 2009 in Londen ontmoet. “Hy wou hê ek moes miljoene in sy trustrekening inbetaal, maar ek het onraad vermoed.”
Vorster het vir Cooper in e-posse geskryf ABVP Law is betrokke by opheffingswerk en ontwikkelingsprojekte oor Suid-Afrika heen en dat sy firma regsadvies verleen aan projekbestuurders wat sowat R11 miljard se ontwikkeling doen.
“Ek het geen rede gehad om te twyfel dat hy is wie hy sê hy is nie en hy het gelyk of hy weet waarvan hy praat,” sê Cooper.
In ’n brief aan Cooper het Vorster gesê Trevor Manuel, minister van nasionale beplanning in die presidensie, en Pravin Gordhan, minister van finansies, is betrokke by die poging om die skenkersgeld te bekom.
Cooper sê hy het egter begin skepties raak toe Vorster wou hê hy moes die skenkersgeld in sy eie rekening inbetaal. “Ek het gesê ons doen dit nie só nie en skielik het sy belangstelling opgedroog.”
Vorster het die afgelope week erken hy het Cooper ontmoet om skenkersgeld te probeer bekom. Hy beweer hy het opgetree namens ’n kliënt wat “toegang tot die president se regsadviseurs gehad het”.
Dumisa Jele, woordvoerder van die ministerie van nasionale beplanning, ontken egter dat Vorster deur Zuma of Manuel gevra is om geld namens hulle in te samel.
“Die minister het geen bande met hierdie karakters nie; daar steek geen waarheid in nie.”
Rapport het vasgestel Vorster het nie die vereiste toestemming van die NIA om private werk te doen nie.
Nogtans het Vorster glo af en toe oorsee gereis om sy private regsfirma se sake te bedryf – en ook om oorsese bankrekenings te open.
Anton Alberts, ’n LP van die VF+ en ’n direkteur van ABVP Law, het by navraag gesê hy is “geskok en ontsteld” om te hoor Vorster is ’n NIA-beampte. “As dit waar is dat hy by die NIA werk en oor sy doktorsgrade gelieg het, sal ek dadelik bedank (as ’n direkteur van ABVP),” het Alberts gesê.
Alberts het erken hy het vroeër “gerugte” gehoor dat Vorster vir die NIA werk, maar hy sê Vorster het dit ontken toe hy hom daaroor uitgevra het.
Vorster sê sy verantwoordelikhede by die NIA sluit in teenspioenasie, die bewaking van Suid-Afrikaanse ambassades en ander sleutelpunte soos die Reserwebank, en selfs regsadvies aan die NIA se top-bestuur.
Die 44-jarige Vorster beweer hy het meer as drie jaar oorsee gewerk en 54 lande besoek. Hy is onder meer ’n direkteur van ’n maatskappy wat dobbeltoerusting vervaardig en volgens sy CV is hy ook die tegnologiese en regsadviseur vir die Intesol-maatskappyegroep.
Volgens Intesol-dokumente is Vorster ’n elektroniese ingenieur by die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake wat aan “sensitiewe regeringsprojekte” werk.
Vorster beweer die NIA is bewus van sy Intesol-belange.
***
Kort nadat hy die firma ABVP Law geopen het, het “doktor” André Vorster, ’n senior NIA-spesialis, vir hom regsgrade gaan soek.
Vorster, ’n oudstudent van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (destyds Pretoria Technikon), beweer op sy CV en sy firma se briefhoof hy het twee doktorsgrade – in die regte en in inligtingstegnologie – aan die “Richmonds University” in Brittanje behaal. Daar is wel ’n Richmonds University, maar dit bied nie doktorsgrade nie.
Vorster sê: “Die dokumente is in my kluis. Ek sal julle wys.”
Rapport is in besit van ’n e-pos wat Vorster in April 2007 aan die “Universiteit van Glendale” in Amerika gestuur het waarin hy vra hoe hy “’n doktorsgraad” kan bekom.
Glendale – wat waardelose kwalifikasies verkoop – het geantwoord hy kan vir R13 000 “’n graadpakket” kry met sy diploma, honneursgraad, transkripsies van sy tesis en verwysingsbriewe van sy professore.
Vorster beweer hy het toestemming van die NIA vir sy regsfirma en werk slegs ná kantoorure daar.
“Hoewel ek die voorsitter is, is ek nie altyd by die regsfirma nie. Ek bestuur nie ABVP Law nie. Ons is agt vennote en daar is ander mense wat daardie rol vervul.”
Die voormalige ABVP-direkteur mnr. Hennie van Staden sê egter Vorster werk heeltyds by sy regsfirma. Hy sê hy het nie geweet Vorster werk vir die NIA nie.
Nog ’n voormalige ABVP-vennoot, wat naamloos wil bly, sê Vorster het vroegoggend NIA toe gegaan, maar sy BMWX3 was vir die grootste deel van die dag by ABVP se Meyerspark-gebou geparkeer. Vorster het selfs gereël dat sy telefoon by sy regsfirma na sy NIA-kantoor deurgeskakel kan word.
ABVP Law adverteer in die Geelbladsye sy dienste as “korporatiewe prokureurs” en op ander webwerwe as “regsdienste-prokureurs en notarisse”. In die firma se eie dokumente word gesê hy bied “volledige regs- en finansiële advies”. Die firma is egter nie geregistreer by die Prokureursorde nie. En een van hul adviseurs is ’n prokureur wat aan diefstal skuldig bevind is en nie meer mag praktiseer nie.
ABVP het glo ook vennote in Amerika, Kanada, Switserland, Argentinië, Pakistan, Nigerië, Kameroen, Kanada en Malawi.
’n Paar gekwalifiseerde prokureurs is direkteure, maar hulle is by ander praktyke betrokke en het nie eens kantore by ABVP nie.
ABVP het Isaac Swartzberg – wat aan diefstal van trustgeld skuldig bevind en van die rol geskrap is – as “regsadviseur” aangestel. Vorster sê: “Hy gee net raad. Hy help ons met kontrakte en so.”
In 2007 het die Prokureursorde aan ABVP gesê “die grondslag waarop die sake-onderneming hom aan die publiek voordoen mag misleidend wees” omdat dit “nie ’n ware prokureursfirma is nie”. Vorster het ingestem om misleidende stellings van die AVBP-briefhoof te verwyder en sê probleme met die Prokureursorde is opgelos.
- Rapport