Man erken hy het drankie op Zuma gemors
2011-03-22 13:41
Durban – ‘n Man wat daarvan aangekla word dat hy verlede jaar by die Durban July-perdewedren sy drankie op pres. Jacob Zuma gemors het, het in die Durbanse landdroshof erken dat hy dit per ongeluk gedoen het.
“Die beskuldigde, Daryl Peense, erken dat ‘n klein hoeveelheid van die whiskey en water wat hy gedrink het, uit sy glas gemors het,” het Peense se regsverteenwoordiger, Jimmy Howse, Dinsdag in die hof gesê.
Volgens Howse het Peense (31) op ‘n balkon gestaan toe die voorval plaasvind.
Die beskuldigde was “dronk” ten tyde van die voorval en het sy drankie “per ongeluk” gemors, het Howse gesê.
“Niks van die drankie het op die president uitgeval nie,” het hy bygesê.
Howse sê daar was geen fisiese kontak met Zuma nie en geen skade is aan hom gerig nie.
Die regsverteenwoordiger sê ook dat Zuma geen klag gelê het nie.
“Dit is noodsaaklik dat die vermeende slagoffer (Zuma) ten minste kla en verduidelik dat sy liggaamlike integriteit geskend is. Die president het geen klag van aanranding gelê nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA