Man erg beseer in vliegongeluk
2012-01-19 09:01
Alet Joubert en Jacobus Myburgh
Port Elizabeth – Frans Griessel van Sherwood is Woensdagaand in ’n ernstige toestand na die Life St. George-hospitaal geneem nadat hy naby Elandsrivier in Uitenhage tydens ’n pretvlug met sy Aquilla-mikrovliegtuig neergestort het.
Ao. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, het gesê ’n boer van die plaas Tanglewoods het die ongeluk gesien gebeur toe Griessel (55) omstreeks 19:15 glo in kragdrade vasgevlieg het.
Die boer het Griessel, wat ’n private vlieënierslisensie het en lid is van die Uitenhage-vliegklub, te hulp gesnel.
Swart het gesê die ongelukstoneel sal ondersoek word.
Op 7 Januarie is twee Baaise broers, Lumon en Barney van Eeden, dood toe hul Cess-na 150 op die gasteplaas Syfergat, ook in die Uitenhage-distrik, neergestort het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger