Man eis R2,8 m. ná erge ongeluk
2011-10-21 08:01
Bloemfontein – 'n Verkoopsman van Bloemfontein gaan R2,8 miljoen van die munisipaliteit van die stad eis nadat hy ernstige beserings opgedoen het toe hy teen ’n verkeersirkel in Waverleyweg vasgery het, blyk uit stukke in die Vrystaatse hooggeregshof.
Jan Vermeulen (26) van Bayswater sê in ’n hofverklaring, wat Donderdag voor regter Corné van Zyl gedien het toe hy in die vroeë oggendure van 18 Januarie 2009 teen die verkeersirkel in die omgewing van die NG kerk Berg-en-dal vasgery het, was daar nie voldoende en sigbare waarskuwings- en padtekens nie.
Die sirkel het nie sigbare verf of weerkaatsingsmateriaal daarop gehad nie en die straatligte in Waverleyweg het nie gebrand nie, terwyl daar wel ligte agter die sirkel gebrand het.
Benewens die groot skade aan sy voertuig en verskeie kneus- en snyplekke wat hy opgedoen het, is veral sy regterenkel en linkerhak ernstig beseer. Die linkerhak was vergruis.
Vermeulen, wat by Vermeulen Verf in Bloemfontein werk, sê hy het reeds mediese uitgawes van R91 363 en hospitaalkoste van R41 785 betaal en sy toekomstige mediese uitgawes beloop R536 600.
Sy toekomstige verlies aan verdienste omdat hy waarskynlik vyf jaar vroeër sal moet ophou werk, is R1 890 000, sê Vermeulen in sy verklaring.
Regter Van Zyl het hom kwytgeskeld daarvan dat hy versuim het om binne ses maande ná die ongeluk ’n aanmaningsbrief aan die munisipaliteit geskryf het, soos wat die wet voorskryf.
Vermeulen sê in sy verklaring hy was in daardie stadium nie bewus van dié bepaling van die wet nie en wou ook eers wag om sy presiese skade te bepaal voordat hy ’n prokureur gaan spreek het.
Regter Van Zyl het ook verklaar dat die prokureursbrief wat hy op 25 Julie vanjaar aan die munisipaliteit laat aflewer het, ’n behoorlike aanmaningsbrief ingevolge wet is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad