Man dra gesteelde baadjie in hof
2010-07-08 19:19
Kaapstad – ‘n Man wat na bewering ‘n baadjie uit die motor van ‘n Mexikaanse toeris gesteel het, het dit Donderdag in die Wêreldbeker-hof in Kaapstad aangehad.
Niel Petersen (23) het onskuldig gepleit op die aanklag van diefstal teen hom nadat ‘n rugsak met besittings uit Espejel Tenes se huurmotor gesteel is op 6 Julie.
Tenes het aan die hof gesê dat sy skootrekenaar, baadjie, skoene, geld en ‘n waardevolle diamantring in die rugsak was wat uit die motor gesteel is.
Hy het ook aan die hof uitgewys dat die verdagte die baadjie aan het wat vroeër gesteel is.
“Die vermiste baadjie is die een wat die verdagte op die oomblik aan het,” het Tenes gesê.
Landdros Joe Magele het dadelik daarop aangedring dat Petersen die baadjie aan ‘n polisiebeampte oorhandig. Petersen het glad nie reageer op Tenes se bewerings nie en het die baadjie oorhandig.
Die verdagte het getuig dat hy die rugsak in die straat opgetel het. Hy beweer dat hy wou kyk wat daar binne was, toe iemand dit gegryp en daarmee weggehardloop het.
Volgens Tenes is die rugsak, met sommige besittings steeds daarin, later by die polisiestasie ingehandig. Die diamantring was egter steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA