Man doodgeskiet wat polisiebeampte aanval
2011-05-02 17:10
Johannesburg - 'n Polisiebeapte het twee mense geskiet, waarvan een dood is, ná hy in Khuma in Noordwes aangeval is, het die polisie Maandag gesê.
Die polisiebeampte was glo om 06:30 by sy vriendin se huis toe twee mans die huis na bewering binnegekom het, hom uitgesleep het en hom aangeval het, het brig. Thulani Ngubane in 'n verklaring gesê.
Die polisieman het die insident by 'n nabygeleë polisiestasie rapporteer. Op pad huis toe is hy weer deur 'n groep mense aangeval.
"Hy het na bewering die vuurwapen gebruik om homself te red van die aanvallers. Hy het twee van die aanvallers geskiet en het weer na die Khuma-polisiestasie gegaan om die insident te rapporteer."
Die redes vir die aanvalle is nie bekend nie, het Ngubane gesê.
'n 28-jarige man is in sy linker-elmboog geskiet en 'n 23-jarige man in sy maag en wang. Albei is in 'n hospitaal opgeneem. Die jonger man is Maandagoggend dood.
Die polisiebeampte het 'n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer geopen. 'n Saak van poging tot moord wat teen die polisiebeampte aanhangig gemaak is, is later verander in 'n moordsaak.
Die Onafhanklike Klagtedirektoraat ondersoek die saak. 'n OKD-woordvoerder kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA