Man dood, vriendin beseer in botsing
2011-10-31 09:04
Johannesburg – ’n Jong man wat by die noodeenheid van die Mediclinic Bloemfontein gewerk het, is die naweek dood nadat ’n vermeende dronkbestuurder reg van voor teen sy en sy vriendin se bromponie vasgery het.
Die bestuurder van die bakkie is by die lyk van Francois le Grange (28) in D.F. Malherbe-straat, Universitas, weens beweerde dronkbestuur in hegtenis geneem, sê die polisie.
Le Grange se vriendin, Emmerencia Myburgh (19), was Sondag in ’n stabiele toestand in die Mediclinic nadat sy vir breuke aan haar regterbeen en bekken geopereer is.
Kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, sê die 41-jarige bestuurder van die bakkie het Saterdagaand omstreeks 22:50 na bewering aan die verkeerde kant van die pad gery en teen die bromponie vasgery.
Die bakkiebestuurder en sy drie passasiers is ongedeerd. Le Grange is op slag dood.
Le Grange het as portier by die Mediclinic se noodeenheid gewerk.
Hy was ’n lid van die Free Bikers Association (FBA) in Bloemfontein.
Vriende het Sondag hul skok en hartseer op sy Facebook-muur uitgespreek.
Efcee Terblanche skryf: “Ons het mekaar ’n baie lang tyd geken en was soos boeties, maar nou het die Liewe Vader besluit om jou na Hom te neem. Beter Plek? Beslis! Maar nou is jou plek hier by ons leeg en daar’s niemand wat dit kan vul nie. Ons gaan jou baie mis ou Frans!”
Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic, sê Le Grange se dood word wyd betreur. Dit gaan ’n groot leemte by die noodeenheid van dié hospitaal laat.
“Hy was ’n ongelooflike, oulike, dierbare mens. Dit was vir ons ’n baie groot skok en is baie sleg. Hy was ’n groot aanwins vir die hospitaal. Sy vriendelikheid en glimlag was sy kenmerke.”
Myburgh se ma, Annemarie, wat Sondag haar dogter by die hospitaal ondersteun het, het gesê haar dogter en Le Grange was nog nie lank ’n paartjie nie.
Sy sê hulle was die aand na Le Grange se tannie se 40ste verjaardagpartytjie.
“Oor die hoe’s en hoekoms het ons nog nie kon dink nie. Dit gaan beter met Emmerencia. Die traumaberader van die hospitaal het haar vanoggend gesê oor Francois se dood. Sy het gehuil. Sy is sedertdien onder sterk verdowing vir die pyn.”
Volgens die polisie sal die 41-jarige man binnekort op aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad