Man dood, vier beseer in KZN-ongeluk
2012-01-27 18:56
Johannesburg – ‘n Man is dood en vier ander mense is beseer toe hul bakkie Vrydag omgeslaan het in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het paramedici gesê.
Dit wil voorkom of die bestuurder omstreeks 14:00 op Edendaleweg beheer oor die voertuig verloor het, het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê.
“Die bakkie het van die pad af beweeg en teen ‘n muur op ‘n eiendom gebots. Een passasier is op die toneel dood,” het hy gesê.
Paramedici het die beseerdes, insluitende die bestuurder, op die toneel bygestaan.
Twee van die beseerde mense is in ‘n ernstige toestand, terwyl die ander in ‘n kritieke toestand is met veelvuldige kopbeserings.
Hulle is na ‘n plaaslike hospitaal geneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA