Man dood, drie kinders vermis ná vloed
2010-01-26 15:22
Johannesburg – ‘n Man is dood en drie kinders word vermis nadat ‘n voertuig in ‘n oorstroomde duikweg in die Noord-Kaap vasgesit het, het die polisie Dinsdag gesê.
“’n Toyota Venture was besig om skoolkinders af te laai, en hulle het deur ‘n duikweg gegaan wat vol water is," het supt. Mashay Gamieldien gesê.
Die duikweg, wat ‘n pad onder ‘n treinspoor in De Aar is, het Maandagaand omstreeks 16:30 ná ‘n wolkbreuk oorstroom, het sy gesê.
Reddingswerkers het die bestuurder bevry, maar hy het op pad na die hospitaal gesterf.
“Net voor hy gesterf het, het hy aan nooddienswerkers gesê dat daar steeds drie kinders in die motor was,” het Gamieldien gesê.
“Die voertuig is Maandagaand omstreeks 21:30 gevind, maar daar was geen lyke nie.”
“Ons hoop om die lyke te vind sodra die water gedreineer word. Reddingswerkers duik sedert gisteraand, maar hulle kon nog geen lyke vind nie.”
Die bestuurder het gesterf voor hy enige name of inligting oor die kinders kon bekendmaak.
Geen kinders is sover in De Aar as vermis aangemeld nie.
“In die stadium probeer ons nog alles uitpluis.”
- Sapa