Man deur polisie geskiet in padwoede-voorval
2011-08-20 15:37
Johannesburg – 'n Man van Fordsburg is deur 'n beampte van die metropolisie geskiet tydens 'n oënskynlike padwoede-voorval, het die Johannesburg-metropolisie Saterdag gesê.
Volgens Wayne Minnaar, 'n woordvoerder, het die man in 'n wit Golf gery. Hy het 'n rooi Golf gevolg wat Vrydag op Barry Hertzog-rylaan in druk verkeer voor hom ingery het.
Hy het die voertuig gevolg en toe hy dit inhaal, het hy 'n vuurwapen te voorskyn gebring en die motor se een venster uitgeslaan.
Die man, 29, het die geweer op die insittendes in die ander Golf gerig, wat eintlik metropolisielede in gewone drag in 'n ongemerkte voertuig was.
"Nadat hy die venster met sy vuurwapen gebreek het, en die vuurwapen op die polisielede gerig het, is die verdagte in die regterbeen geskiet," het Minnaar gesê.
Hy het gesê 'n saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging sal teen die man gemaak word.
"Ons sal ook 'n kriminele ondersoek en 'n departementele ondersoek na die voorval doen," het Minnaar gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA