Man byt polisiebeampte
2011-08-17 22:54
Johannesburg – ‘n Motorvensterwasser is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy na bewering die hand van ‘n polisiebeampte wat hom in Sandton, Johannesburg, in hegtenis wou neem, gebyt het, het die metropolisie gesê.
‘n Metropolisiebeampte het die man omstreeks 17:00 probeer vastrek toe hy naby Grayston Drive die voorruit van ‘n motor gewas het, het hoofsupt. Wayne Minnaar gesê. Die inhegtenisneming sou deel uitmaak van ‘n veldtog om mense wat regulasies oortree, in hegtenis te neem. Die veldtog is twee weke gelede van stapel gestuur.
Toe die man aanvanklik weerstand teen die inhegtenisneming gebied het, het ‘n struweling tussen die twee ontstaan.
“Die man het die beampte se linkerhand gebyt voordat ander beamptes gearriveer en hulle uitmekaar getrek het.”
Die beampte is na die Milpark-hospitaal geneem vir behandeling.
Die veldtog is ‘n gevolg van verskeie motoriste wat gekla het dat mans seepwater op hul voorruite uitgooi en dit net so los, het Minnaar gesê.
Die vermeende byter, in sy vroeë 20’s, sal na verwagting van aanranding aangekla word en dat hy ‘n regulasie oortree het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA